One of the many articles printed about Simon Rademan

Back to homepage                                                                               Enter Site

*

Simon Rademan knows about dresses - Sondag

"Die bank se verlies is Suid Afrikaanse vroue se wins"
Sondag

*

  • Storie geskryf deur:  Yolanda Barnard

  • Foto:  Liza van Deventer, Sondag

Die man glo in eerlikheid en harde werk, soos die destydse Volkskas mantra:  Arbeidsaamheid.  Vrouens koes vir sy kritiek, maar weet hulle kan hom vertrou al speel hy glo nie klavier soos Bach nie.  Die eks bankkassier se lewe het verander toe hy modeontwerper word.  Die bankwereld se verlies het Suid-Afrikaans vrouens se wins geword.

Titel:  Gehaat, geliefd, Simon wéét van rokke

Simon Rademan (44) se plakboek lê oop in sy sitkamer. Blaai ’n mens dit deur, vertel dit die storie van sy drome, sy lewe en sy lappe wat al aan sowat 120 bekendes se lywe gehang het. Hestrie Cloete is daar. Natasha Sutherland. Chante Hinds. Nog gesigte. Nog uitrusting. Kritiek, kommentaar.

Simon verskyn in die sitkamer. In gitswart. Net ’n silweroorbelletjie verbreek die monotoon.

“Die Golden Globes!” ’n Klein gilletjie voordat hy die televisie aanskakel. “Ek hoop nie jy gee om nie, maar as daar ’n toekenningseremonie is, kyk ek die hele dag televisie.” Sy kommentaar is pittig. “Ag nee, niemand doen moeite met hulle hare nie. Dit lyk asof hulle net so uit die bed opgestaan het.”

Simon vier vanjaar sy 20ste jaar in die modebedryf en sy swak-en-besgeklede lysie is vanjaar tien jaar oud.

“Ek kan nou nog nie glo wat die afgelope 20 jaar in my lewe gebeur het nie.”

Hy het sy loopbaan as kassiere by Volkskas begin en ’n paar draaie op die verhoog gemaak, maar as die lewe se dobbelsteentjies nie vir hom reg geval het nie, sou hy seker ’n akteur gewees het.

Wat is die hoogtepunte in jou loopbaan?

Hy antwoord dadelik. “Die dag toe ek ingeskryf het vir ’n kursus in mode-ontwerp. Ek het maande gespaar en toe ek begin studeer het, was my studies vooruitbetaal. Volkskasbank se leuse, Arbeidsaamheid, is nou nog my lewensmotto.”

Simon maak dit duidelik dat sy klere nie vir elke Lenie en Marie is nie. “My rokke is duur. Ek gebruik die beste materiaal. En my ontwerpe is ook uniek. Ek maak vir niemand dieselfde rok nie, maar my inligting is gratis. Ek sal enigiemand help met klerekasbeplanning en vir hulle stylwenke gee.”

Simon glo dat sy eerlikheid ’n groot rol in sy sukses gespeel het. “Ek sal nooit vir ’n kliënt jok nie. As iets nie pas nie, pas dit nie. Ek glo mense het my begin respekteer.”

En ja, daardie swakgeklede lysie. Simon lag.

“In 1999 het ’n koerant my en ’n paar ander ontwerpers genader om kommentaar te lewer oor bekendes se styl. Daardie tyd was dit maklik, almal het soos die hond se dinges gelyk.

“Annie Malan was nommer een op my swakgeklede lysie. So het Terese Trotskie ook die lysie gehaal. Toe ek die koerant oopmaak, was net my lysie daarin. Terese was woedend. Hulle wou my dagvaar. Ek het gedog my loopbaan is daarmee heen. Toe doen ’n tydskrif ’n artikel oor haar klerekas en wat ’n disaster,” lag hy.

Oor die jare het vroue gebewe en gerittel as sy lysie verskyn. Elana Afrika, Christina Storm. Esmarè Weideman. En net verlede jaar, Annique Theron. “Sy is baie kwaad vir my, maar haar onderklere het uitgesteek.”

En kritiek is daar ook.

“Al Simon se vriendinne is op die besgeklede lysie. Hy trek vir Arina de Witt en vir Liezl van der Westhuizen aan,” het iemand gemopper.

“Ek het al die meeste vroue in die bedryf aangetrek. Baie van die wat op my swak- en besgeklede lysie verskyn, is my vriendinne. Ekbesluit nie self nie. Die publiek besluit en stem wie op die lysie moet verskyn.

“Van my eerste modevertonings het Annique vir my gereël, maar as sy sleg lyk, lyk sy sleg. Punt.”

Hy verskoon homself om weer vinnig na die Golden Globes te gaan loer

Sy vet worshond, Prins Juan Carlos, draf waggelend agterna. Dan begin hy bulderend lag. Die prins het op die persiese tapyt gepiepie.

“Nee, Juan, prinse piepie nie op tapyte nie.”

Dit is Simon. Modekenner, connoisseur, ontwerper, kritikus.

*

© Simon Rademan Fashion Design Studio CC

________________________________________________________________

Back to homepage   /   Appointment procedures   /   Order information   /   Contact us   /   Enter Site   /   Consultations   /   Costs   /   Wedding gowns   /   Free articles   /   Celebrities   /   Background   /   Magazines   /   SA's best and worst   /   Save money   /   Matric farewell   /   Our official Fashion page   /   Play intro

_________________________________________________________________________

Back to top

One of the many articles printed about Simon Rademan


Copyright © Simon Rademan Fashion Design Studio CC 93/15533/23